Logo

Tierlantyn'kies 2015

2015-10-07

Die naam en atmosfeer van die mark het daarvoor gepleit en ek het daarom besluit om die blog-post in Afrikaans te doen. Ek was al by verskeie markte en elke keer belowe hulle iets ‘uniek’ en bied dan vir jou iets wat standaard is. Met alle eerlikheid, die mark is in baie opsigte werklik iets anders gewees. Die ruimte is oop en interessant, die parkering en die vloei van mense was goed georganiseerd en anders as altyd, was daar genoeg sitplek in die koelte vir almal. As jy inkom betaal jy net een keer toegang vir die hele week, so indien jy die volgende dag wou terugkom sal jy weer ʼn draai kan maak sonder om weer te betaal. Die mark het een sentrale betaalpunt vir die binne stalletjies. Met jou toegang ontvang jy ʼn invul kaartjie wat dan op dieselfde prinsiep werk as ʼn rekening. Soos jy koop word dit aangeteken en na al jou inkopies word alles op een slag betaal. Kredietkaarte en debietkaarte is welkom. Die hitte op die dag het die potensiaal gehad om die doderyk te beïndruk, maar die Snor Sodas (ʼn drankie wat bestaan uit soda water en ʼn geurmiddel van jou keuse. Voorbeelde daarvan is pipperment, roos en waatlemoen) en sitplek met koelte het gesorg vir lafenis.

Wat was daar gewees?
•    Cupcakes en koek
•    Koffie en Yskoffie
•    Pizza, tacos en ander eetgoed
•    Morris Photo Booth
•    Skryfbehoeftes
•    Plante, roosbome en proteas
•    Badprodukte
•    Leer handsakke
•    Hout ontwerpe
•    Klere
•    Speelgoed
•    Wyn proe
•    Boutique Bier

•    Juwele (Glas, hout, silwer en van ander materiale)
•    Kussings en Kuns
•    Moontlik ʼn paar ander dinge wat ek vergeet het


Wat het vir my uitgestaan?
*Valhalla Tees
Hierdie briljante idee maak my werklik opgewonde. Die Suid-Afrikaanse kultuur word modern uitgebeeld op T-Hemde deur ontwerpe van legendes soos Paul Kruger, Sarie Marais, Jan van Riebeeck en Siener van Rensburg. My broer en pa geniet dit vreeslik, want iewers langs die pad raak mens moeg vir die ou ‘brand’ en raak jy lus vir iets na aan die hart en in Afrikaans, sonder om dinge polities uit verband te ruk. Maak gerus ʼn draai op hulle moderne webtuiste; https://valhallatees.co.za/.


*The Baking Room
Hulle kolwyntjies lyk so heerlik en verleidelik, dat slegs ʼn ‘sterk’ mens verby kan stap sonder om een te proe. Noem dit wat jy wil, maar ons was ‘swak- baie swak’ en het sommer een van elk gekoop. Die bak-‘ster’ van die wonderwerkies verdien ʼn staande applous. Ek het al redelik baie kolwyntjies in my lewe geëet, en meeste van die tyd is die versiersel baie omdat die koek droog is en dit lyk mooi maar jy het byna twee koppies tee nodig om die krummels te sluk. Dit was nie hier die geval nie, ek het werklik elke happie geniet. Mag almal wat ʼn soettand het eendag die geleentheid kry om een van hulle wonderwerkies te eet.


*Die Morris Photo Booth
Vir ʼn bietjie pret, kan jy met rekwisiete (‘props’) poseer, voor, agter of in ʼn Morris Minor. Daar word eers so sewe digitale foto’s geneem om te oefen en dan word daar ʼn Polaroid geneem wat jou yskas sal versier. Daar was al die nodige opsies; van ʼn seerower hoed, snor tot groot blink strikdasse en brille, maar ek en my moeks het besluit op die groen en pers Katy Perry pruike. Ek dink dit goed om by te las dat die digitale foto’s spoedig ge-e-pos was en dat die vriendelike fotograaf (ma) en helpers (dogters) jou op jou gemak laat voel het en bygedra het tot die prettige herinnering van die dag.


*Snor Sodas
Verfrissend en vars! Dis warm en jy is dors, maar water klink flou en koeldrank effens te soet. Daarom is ʼn Snor Soda net wat jy nodig het. Ek kan getuig dat die roos en waatlemoen geur heerlik is, maar twyfel nie in die ander geure se vermoë om jou te verfris en te verras nie.

As jy die Tierlantyn’kies mark gemis het, is ek jammer, maar opgewonde vir jou, want ek weet dit is ʼn groot ‘eerste’ wat op jou wag. Ek sal julle op hoogte hou van die toekomstige markte, maar gaan ‘like’ gerus hulle Facebook bladsy en besoek hulle webtuiste.

Adres: 3Ci – 56 Saal St. Zwavelpoort, Pretoria – Off Atterbury Road
Webtuiste: http://www.tierlantynkies.co.za/ 


Web Design Company

 

Copyright Tanita Roets © 2015. All Rights Reserved.

Our website is protected by DMC Firewall!